Skeermeslemmetjies

Ek was maar bloot in standerd vier toe my wyse ma my die eerste keer teen vroumense gewaarsku het.

Op 11-jarige ouderdom is jou tong mos vasgeknoop. As jy dan die liefde van jou lewe (so dink jy), in die gange van Virginia Volkskool in die middel-Vrystaat raakloop, wil jy teen jou beterwete vir haar verduidelik hoe jy in jou hartjie voel.

Omdat jy op daardie stadium van jou jong lewe skaars behoorlik kan artikuleer, skryf jy liewer ʼn onbeholpe liefdesbriefie wat ma, gesoute joernalis, eers moet lees en redigeer. Haar droë kommentaar; ‘oppas vir daardie enetjie, sy is nou wel pragtig, maar het ʼn tong soos ʼn skeermeslemmetjie,’ is regdeur my ore, anderkant uit. Op elf dink jy nie aan snorre en baarde en skeermeslemmetjies nie. Ek het nie die vaagste benul gehad waarvan my ma praat nie.

Die pragtige meisietjie lag seker vandag nog oor my onbeholpe liefdesbriefie, waarin ek my hele hart en siel aan haar blootgelê het. Spelfoute was daar nie, ma het mos geproeflees. Keurige en fleurige taal wel, daar kon selfs ʼn bybelversie in gewees het. Ek onthou dat ek my niksvermoedende slagoffer uitgenooi het om by Virginia-goudmyn se swemklub aan te sluit en dat die woord voedsel êrens in die briefie voorgekom het. Te klein gebou en onnosel vir rugby, was die swembad my toevlug en soos water vir ʼn vis, die enigste bron van my ongebonde dog misplaasde selfvertroue.

Ek vermoed dat die voedsel iets met ʼn creamsoda en slaptjips te doen gehad het, wat kinders by die swembadwinkeltjie teen ʼn paar pennies kon aankoop. Plus ʼn taai bruin Wilsontoffie vir nagereg (hulle was so vyf vir ʼn pennie).

Ek het nooit ʼn reguit antwoord van my slagoffer ontvang nie en vermoed dat sy die briefie vir haar ma, die bure, die skoolhoof, die dominee of die polisie gaan wys het. Waarskynlik al vyf.

Hoewel my abortiewe liefdesavontuur nie van die grond af gekom het nie, het sy darem eendag versigtig gehelp om prentjies in my storieboek in te kleur. Haar ma het haar seker teen seuns soos ek gewaarsku, want sy het oorkant die storieboek gaan sit, nie langs my nie.

Iets soos: ‘oppas vir daardie seuntjie. Iemand wat so baie van swem hou, kan sekerlik eendag niks meer as ʼn waterdraer en ʼn houthakker word nie.’

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg