Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Thanksgiving

      Gerhard Venter

Ek is vandag knorrig oor die sondes van hierdie pragtige land, Babilon.

Dis ingewikkeld. Ek is sommer befoeterd, omdat ons hier so ‘n pragtige gewoonte het om dankie te sê vir die ongelooflike manier waarop Amerika geseën is. Waarom net een dag in die jaar?

Ek het ‘n professor gehad wat gesê het daar’s nie so ‘n ding soos ‘Babilon’ nie — die stad is Babel en die land is Babilonië. Maar Bob Marley en die Rastas het dit verander. Babilon is nou ‘n ding. Mens, het hulle gepreek oor die sondes van Babilon!

Babilon is ‘n samekoms van sonde — gierigheid, nyd, venynigheid, agterbaksheid, morele afwykings, soeke na nuwe eeue-oue taboes om te oorskry, seksuele mishandeling van kinders, slawerny (ja, jy het reg gelees!). Egbreek, moord, afgodery — wag, daar’s ‘n makliker manier om dit op te som. Lys die tien gebooie en trek ‘n streep deur elkeen.

Laat my dink aan die storie van die Engelsman wat vir die eerste keer in Suid-Afrika na ‘n inryteater toe is. Hulle het mos nie drive-ins daar in Engeland nie — dit hou net Dondergoggende op met reën, so vir ‘n halfuur of so. In elk geval, hy vertel van sy ervaringe in die inryteater.

“Die film wat gewys het, was The Ten Commandments,” vertel hy. “In die kar langs my was ‘n paartjie besig om nege van hulle te oortree.”

Ek kan nie help om te wonder watter gebod dit was wat die tweetjies in die drive-in nie oortree het nie. Ek vermoed daar was nie tyd om ‘n gesnede beeld te maak nie. Of miskien het hulle so ‘n bietjie gekerf, so tussendeur, maar darem nie iemand doodgemaak nie. Wie sal weet?

In elk geval.

Hier waar ons woon in in Noord-Oos Georgia, in die voetheuwels van die Appalachian bergreeks, is dinge so ‘n bietjie anders. Nie dat hier nie sondes is nie — die hemel weet — maar hulle is nie op ‘n internasionale skaal nie, en die ouens probeer op hulle manier om ‘n ordentlike lewe te lei. Soos ons almal.

Sondagoggende is daar verkeerspolisie by die groot kerke om al die karre in en uit te kry, en Saterdae hardloop die militia in camo met hulle AR-15s in die woude rond om te oefen vir die apokalips. Om huis en haard te beskerm.

As die paaie geys is en jou kar gly af in ‘n sloot, sit daar twee of drie stewige manne in ‘n pickup en stap na jou toe waar jy hulpeloos in jou kar sit. Maar al wat hulle wil hê, is om jou te help. Hulle trok is vier-by-vier, die spesiale bande kos hulle ‘n halwe jaar se salaris, hulle het kettings en toue en ‘n noodhulpkassie. Moenie hulle hulp van die hand wys nie. Hierdie situasie is waaroor hulle lewe. En moenie hulle probeer geld gee as hulle jou uit die sloot uitgesleep het nie — dis een manier om gefoeter te raak.

Hierdie ouens noem jou ‘brother’ as jy ‘n geselsie aanknoop by die petrolpomp of by die ammunisietoonbank in WalMart. En weet jy wat? — dit maak my hart warm. Solank jou handdruk iets werd is en jy bereid is om saam met hulle te staan teen bedreigings, is jy deel van die hulle broederskap.

‘n Ander voorbeeld van rednecks wat die regte ding doen is die Cajun Navy. Hulle is die ouens wat met hulle persoonlike platboom-bote ingaan na ‘n orkaan en mense van hulle dakke af en uit bome red. Swart of wit, met troeteldiere.

En dis hierdie mense wat hulle Dankseggingsdag met oorgawe vier. ‘n Paar miljoen kalkoene sien hulle gaie, en ‘n paar duisend ton cranberrysous word aangekoop. Familie kom oor duisende myle — letterlik — om bymekaar te wees. Die lughawens is verstop, and as daar soveel soos ‘n wildegans oor die aanloopbaan loop, kom alles tot stilstand, en selfs die karre op die paaie beland in ‘n reuse-knoop. Maar op een of ander manier, met stresvlakke wat by hulle ore uitloop, kom die broers en susters en neefs en niggies en oupas en oumas en die Verlore Seun almal by hulle mense uit. Dan die Thanksgiving ete. Die een dag waarop Amerikaners ordentlik eet.

En voor die ete gebeur daar ‘n wonderlike ding; ‘n wonderwerk, om die waarheid te sê. Hulle almal bid tot die Here om dankie te sê vir die ryklike seëninge wat hy oor hierdie land uitgestort het, en dit nog steeds doen.

Ek dink dis die enigste rede hoekom Babilon nog nie in ‘n kernbomflits in vlamme en rook en radioaktiewe uitstraling opgegaan het nie.

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: