Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Is dit al?

Llandudno se seawater is knypstertkoud hierdie tyd van die jaar, veral as jy elke oggend voor brêkfis ʼn wakkermaak-swempie probeer inkry. Net my speedo-jammertjie staan tussen my en die yskoue water, maar ons body-surf darem so ʼn bietjie en vang ʼn holrugbrander terug strand toe.

Langs ons trek ʼn blinknuwe Kia Sportage in en twee Kaapse mannetjies klim uit. Ek weet hulle is Kapenaars en nie Vrystaters nie, want hulle sê so deur hulle neuse good morning en die grênd motor sê CA. Elkeen het ʼn kraakvars O’Neill-wetsuit aan, pikswart en jy kan sommer sien die goed kos rondom R 20 000 vir een. Die Oakley-sonbrille kan R 10 000 elk wees en hul groen oorpluisies waarskynlik uit Europa ingevoer. Toe kom die sonbrand-olie en versigtig word die voorkop, nekkie agter, hande en voete met die olie en so ʼn wit strepie oor die neus besmeer. Laastens word die geel neusblokkertjies uit hulle plastiekhouers gehaal en gereed gemaak vir aksie in die see.

Ek staan die spulletjie so en kyk en dink by myselwers dat ons nooit sulke fênsie goed in die Vrystaat gehad het nie, al kan daai Sandrivier lekker koud word in die winter. My gat se deksel was die nuwe groen paddavoete wat elkeen uit sy eie houer haal, kompleet met ʼn swart riempie om die twee goed aan mekaar vas te bind. Seker as hulle nou een verloor en moet weet waar om die ander paddavoet in die branders te kry.

Die ouens lyk vir my baie professioneel en georganiseer. Seker beroepsbranderplankryers of body surfers dink ek en trek my speedo-jammertjie selfbewus bietjie stywer. Toe is hulle gereed en ons stap so min of meer saam-saam die yskoue water in. Branderplanke is nȇrens te sien nie en die twee professionele ouens ‘wade,’ met gepaste handgebare, versigtig dieper die water in. Die eerste brandertjie slaan die een ou bietjie skuins, maar hy verloor nie moed nie. Maak net ʼn verstelling aan sy een oorpluisie. Ek body-surf die eerste brander uit en kyk om, sodat ek darem iets by die professionele manne kan leer oor tegniek, posisionering en watervaardighede.

Die twee professionele manne besluit saam om die volgende brander te vat, ongeveer die helfte so groot soos die vorige een. Die outjie links se gilletjie toe die koue water hom so in die rug tref, is iets wat ek altyd sal onthou. Sy maatjie se neusblokkertjie en oorpluisies spat gelyk in alle rigtings en die volgende oomblik kom sy hande en voete gatoorkop hier langs my verby. Ongelukkig beland hy aan die verkeerde kant van die brander, net toe die volgende een hier oor sy kop breek en hom harder sweepslag as Greame Pollock se wilgerlatkolf op die Wanderers. Die gedagte kom onwillekeurig by my op dat die woord ‘rolmaalbeweging’ seker maar hier op Llandudno se strand ontstaan het.

In die hele onderonsie met die branders het die een professionele ou se paddavoet weggespoel, sy swart riempie middeldeur geskeur. Die ander mannetjie het tot op die strand gebollemakiesie, met sy twee paddavoete wat in teenoorgestelde rigtings wys en die O’Neill-wetsuit se velcro om sy kop gedraai.

‘Ja, manne,’ glimlag ek, terwyl ek vir die volgende brandertjie wag. “Julle kan bly wees julle hoef nie in die Vrystaat se Sandrivier te swem nie, daar is nog likkewane ook.’

*

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: