
Dit maak seer as ʼn beter ou jou met sport wen.
Veral as die tweestryd tussen julle min-of-meer-ongeveer van die Anglo-Boereoorlog se tyd af kom.
In die hele gedoente met die rugby het party ouens vergeet dat dit ʼn speletjie is, met ʼn bal wat soos ʼn volstruisreier lyk.
Rassie en sy Springbokspan het in Japan ʼn wȇreldbeker gewen en daarmee ʼn hele land trots gemaak. Ek steek ruiterlik my hand op en bieg dat ek nie gedink het die Bokke kan wen nie, wat-wou met die hele tyd die bal-in-die-lug-opskop ding. Maar Rassie en sy manne was groter, vinniger, slimmer en meer gemotiveerd as die Engelse, om die wȇreldbeker met vindingrykheid en vaardighede te wen. Mooi so, welgedaan, baie geluk. Soos die Engelsman sou sȇ, ‘a once in a lifetime achievement.’
Behalwe dat die Engelse slegte verloorders is en hul bleekbeen- kapteintjie dit nie oor sy stiff upper lip kon kry om geluk aan die Bokke te sȇ nie. Prins Harry moes dit maar namens die asvaal Engelse in die Bokke se kleedkamer doen. Soos dit an officer and a gentleman betaam, het Harry na die Bokke toe gestap, blad geskud, ʼn bier saam met hulle gedrink en beaam dat die beste span gewen het.
Die Britte met hul swak sportmanskap kan ‘n blaadjie uit my boek lostorring. Ek het baie keer teen Bruce Fordyce Comrades gehardloop, hy gewoonlik eerste en ek so nege- of tienduisendste. Maar het ek ooit my rugbyballe uit my kot gegooi en kwaad geword vir die man, of huilerig in die hoek gaan sit en my bewende lippie gebyt? Nee, ek het wraak gesweer, net om die volgende jaar maar weer tienduisendste te eindig. Ek weet hoe dit voel om ʼn sore loser te wees, my bene was nà elke Comrades baie seer.
Nà baie sportnederlae, het ek en my korrelkopvriende hier in Suid-Afrika ʼn skeutjie wyse raad aan julle huilerige Engelse. Hang maar weer daardie silwer medalje wat jy afgehaal het, terug om jou nek en gaan koop ʼn nuwe paar tekkies, ek bedoel toks, om weer te probeer. En glimlag vir die kamera.
@Henningvanasweg / Amazon.com/author/henningvanaswegen
*