Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Maria de Melker se tweede moordjie

  • Ek is nie ‘n skinderbek nie, was nog nooit nie, maar ek het ‘n storie gehoor wat die hare op jou tande orent laat staan. Ek het al voorheen vertel (nie geskinder nie), van verpleegsuster Maria de Melker en die goed wat sy op Swellendam aanvang, omdat Swellendam so ‘n lekker plek is om moord te pleeg.

Gerugte oor Frik Breytenbach was lank reeds in die Bolandse dorpie Swellendam in omloop. Swellendam, met sy grys-groue lug en reën en koue en mistigheid in die winter, ʼn doodgoeie plek vir moord.

Lelike gerugte wat fluisterend van mond tot oor in die Swellendam-buiteklub se elegante eetsaal en op die terras wat oor die Kornlands-rivier kyk, oorgedra is. Saggies, sameswerend, asof niemand mag weet nie, maar tog moet weet. Gerugte van vrouemishandeling, van geweld, van slanery en afknouery. Frik Breytenbach se jonger vroutjie Jenny se naam is genoem.

“Bring asseblief nog ʼn bottel Moët & Chandon Brut,” beveel Maria de Melker die kelner en strek haar arms behaaglik agter haar kop uit. ‘Tog te lekker om te weet ek het met moord weggekom,’ murmureer sy saggies, sonder dat haar vriendin Malie langs haar ʼn woord hoor. Liewe Malie, wat saam met Maria de Melker by die Swellendam provinsiale hospitaal werk en elke woord wat haar liewe vriendin spreek, glo. Want Maria de Melker is ʼn arme weduwee, sedert haar man Bertus Bruwêr, so ʼn paar jaar gelede deur sy wrede vorige vrou Marietjie met ʼn hospitaalskêr doodgesteek is. Foei, die arme Maria wat sò gely het, sò treurig was na die moord op haar man.

“Het jy gehoor van Jenny?” het Malie daardie dag verneem en ʼn slukkie van die lieflike voggies op haar tong rondgerol, so asof sy daaraan dink om iets aan die saak te doen. Maria se blik was onheilspellend in die verte gerig en sy het net kopskuddend geantwoord. Sy weet goed van Frik Breytenbach en sy harde vuiste wat hy reeds op skool gebruik het om af te knou, om seer te maak, om te verneder. Sy onthou die gerugte en fluisteringe onder die leerlinge, maar niks het daarvan gekom nie omdat Frik Breytenbach se pa ʼn vermoënde man was. Voorsitter van die skoolraad, ʼn man wat baie skenkings aan die skool gemaak het. Die meisietjie se ma en pa het haar daarna uit die skool gehaal en niks is weer van haar gehoor nie. Nie eers toe iemand gesȇ het die arme meisietjie ʼn baba verwag het nie. Byna vyf-en-dertig jaar later onthou niemand eers meer haar naam nie.

“Ja Malie, ek ken vir Jenny. Sy was twee weke gelede hier by ons in die ongevalle. Haar lieplapper-man het haar blou geslaan, amper haar arm gebreek. Was ook nie die eerste of laaste keer dat dit gebeur nie.”

Swellendam is darem so ʼn lekker plek vir moord, dink Maria de Melker toe sy deur hospitaal stap en seker maak niemand sien haar by die kombuis se agterdeur uitglip nie. Dit is donker en doodstil agter die hospitaal, nie eers die veiligheidswag aan die voorkant van die gebou kan tot daar sien nie. Hy sit seker weer en slaap, grinnik Maria en vroetel met haar hand liefdevol om die skerp skȇrtjie in haar sustersuniform se sak. ʼn Pragtige skȇrtjie, klein, vlymskerp, ʼn skȇrtjie wat sy werk goed doen en wat sy al voorheen gebruik het.

Die agterdeur van Frik Breytenbach se huis in Somerset straat, is nie vêr van die hospitaal se agterdeur af nie. Mens kan lekker vinnig in die aand langs die donker heining tussen die twee afstap, sonder dat enigiemand jou waarneem. Frik sal seker verbaas wees om my te sien, flits dit deur haar brein. Ons het nà skool nie juis baie kontak met mekaar gehad nie. Hy sal tog sekerlik die deur oopmaak as hy my stem hoor – dit is al wat ek nodig het. Die swernoot gaan nie weet wat hom tref nie.

“Hallo! Frik! Hallo!” Haar stem dra bietjie in die koue naglug en Maria loer benoud om haar rond, bang dat die bure haar sal hoor. Daar’s beweging in die huis en sy hoor hoe voetstappe al hoe slepend nader kom. “Wie’s daar? Wat is dit? roep Frik en Maria hoor hoe hy met dom hande aan die agterdeur se handvatsel sukkel. Hopelik is hy goed geknetter, dink Maria en klem die skȇrtjie vaster in haar vuis. “Dit is ek, Frik,” roep sy saggies. Ek! Van skooldae af, Frik. Maak oop die deur, ek wil met jou gesels.”

Bloedbelope oë staar deur die sifdraad na haar en bewende hande maak die agterdeur op ʼn skrefie oop. “Maria?”

“Ja. Maak oop die deur.”

“Maria! Is dit wragtig jy? My hemel!” Frik Breytenbach snak na sy asem en hy staar verbaas na die langvergete gesig hier voor hom. Sy lyk ouer, dink hy en strompel wankelrig nader. Die lig teen die dak is lankal gebreek en dit is stikdonker op die stoepie. Hy kan skaars haar silhoueët uitmaak. Sy oë knip-knip om op die figuur in die donker te fokus; te laat sien hy die flitsende skȇr in die dowwe maanlig. Sy aorta spuit onmiddellik ʼn donker stroom bloed en sy bene swik hom tot op sy hurke. “Maria? Waar was jy al hierdie jare? Maria?”

Die skȇrtjie flits ʼn tweede keer en Frik Breytenbach se bewende hande kan nie meer keer nie. Sy gesig beur vorentoe en sy lyf begin ruk en spartel van die bloedverlies. Stadig kantel hy vooroor en probeer ʼn laaste keer sy hand na die vrou in die donker uitsteek. “Maria?” Sy dowwe, hulpelose oë volg die skaduwee van die figuur wat stadig van hom af wegstap. Saggies kreun hy toe hy met sy laaste asemteug sy eie bloed op sy lippe proe.

“Totsiens, Frik,” prewel Maria de Melker saggies oor haar skouer, terwyl sy die persoon vir wie sy eens so lief was, roggelend op die stoepie agterlaat. “Jy sal in jou lewe nooit weer jou hande vir ʼn vrou oplig nie.”

*

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: