
Is ek die enigste Afrikaner wat klaar moeg is vir die rugby, nog voordat die toernooi-wedstryd-haka-dansery in Japan begin het? Waaraan net twintig lande deelneem. Hoe moet die ander twee honderd lande nou voel?
Waarom is die hele ding in elk geval belangrik? Maak dit nou saak wie die beste klompie ouens is wat die bal die mooiste kan rondgooi, die vinnigste in alle rigtings kan rondhardloop en ʼn klein outjie kan tackle dat sy harsings skud?
Ek het nourieannerdag my stophorlosie uitgehaal, nog een van daai silwer enes met die groot knoppie bo-aan en gekyk hoe lank die spelers nou regtig rugby speel. Dit is so 21 minute, nie eers naby tagtig nie.
Die res van die tyd sing hulle hand-om-die-lyf liedjies, dans ʼn haka, stry met die skeidsregter, wag vir ʼn lynstaan om te vorm, wag vir ʼn skrum om stabiel te raak (elke skrum vat so tien minute), waai vir die skare en voer televisie-onderhoude. Dan druk een per ongeluk ʼn drie wat vyf punte tel, dan skop hulle ʼn halfuur lank pale toe, dan hou hulle halftyd om lemoene te eet en te rus.
Die hele ding lyk vir my na tydmorsery. Boonop is rugby ʼn spelery, soos wegkruipertjie, of kennetjie, of rounders. Die mense ‘speel rugby,’ speel’ ʼn barshou of ‘speel’ kamtig tot die eindfluitjie blaas. Dan gaan rus hulle ʼn week, met ʼn asynlappie op die voorkop, voor hulle weer ‘speel.’
Hoe kan jy in elk geval die spulletjie ernstig opneem met ‘spelers’ wat geel skoene en pienk broeke dra? Ek het nourieannerdag ʼn vleuel sien speel met ʼn lang pounie tail en harerekkies. Ek kon sweer hy het nog ʼn donkerbril ook opgehad.
Lag ek nou lekker.
LikeLike