Die nommers is vir die krokodille, sê Blouwillem

Die nommers is vir die krokodille, sê Blouwillem

Die bekende en gewilde rubriekskrywer, Blouwillem Theron, is ʼn vriend van my. Waarvoor ek nogal dankbaar is, omdat dit nie maklik is om met iemand wat so ongebonde en ergehumeurd soos ek vriende te wees nie. Party mense sê hy is die enigste vriend wat ek het.

So ʼn paar jaar gelede, organiseer die twee van ons ʼn groot oopwater-swem by die Roodeplaatdam net buite Pretoria, waaraan ʼn paar Olimpiese swemmers uit Engeland kom deelneem. Sommer met die uitnodiging saam, noem Blouwillem terloops vir die Engelse dat daar baie lanklaas enige krokodille en seekoeie in Roodeplaatdam te sien was. Hy dink egter hulle sal veilig wees, daar is darem so ʼn paar duisend ander swemmers ook in die water.

Op die dag van die groot Roode 1000-swem, is Blouwillem nie net aankondiger nie, maar ook getrou aan sy natuur ook seremoniemeester van onhebbelikhede, onnutsighede, liegstoriesvertel en poetsbakkery. Waarvan die bleeklyf Engelsmannetjies met hulle eerste oopwater-swem in Afrika, niks weet nie. Die gebruik en tradisie in driekampe en oopwater-swembyeenkomste in Suid-Afrika, is om swemmers se nommers met swart koukie-pen op arms en bene te skryf, sodat die beamptes op die water nou mooi kan sien wie loop voor, wie tweede is, ens. Dan gryp die beamptes die walkie-talkie en laat weet vir aankondiger op die wal dat die een of daai een nou voorloop en mooi swem en dan laat weet die aankondiger die skares wat op die walle van die dam sit en kyk.

Die reeds effens senuweeagtige Engelsmannetjies het die oggend by die inskrywingstafels van die groot swem die spulletjie so sit en kyk, totdat een dit naderhand nie meer kon hou nie. “But why do you write the numbers of the swimmers on their arms and legs, sir?” wou hy angstig weet en Blouwillem was natuurlik by om te help verduidelik. Die “safety boat” is reeds daardie oggend vroeg op die dam rondgestuur, so hulle hoef nie te bekommerd te wees nie, verseker hy hulle. Daar is nie enige krokodille of seekoeie raakgesien nie en die swem behoort darem redelik veilig te wees. Trouens, daar is lanklaas van die krokodille gewaar en dan ook net daar naby die damwal. Hy meen die krokodille is óf bang vir die seekoeie, óf die seekoeie het hulle reeds verlede jaar opgeëet.

O, ja, die nommers op die arms en bene. Nee, die nommers is net daar vir “insurance purposes,” assuransie, as dit nou per ongeluk gebeur dat een van die krokodille miskien een van die swemmers beetkry. Dan weet ons nou watter ledemaat by watter swemmer pas.

Die bleeksiel-Engelsmantjies het darem naderhand huiwerig in Roodeplaat se koue water geklim om te swem en hulle het almal, sonder uitsondering, in die voorste bondel geëindig. Die stof het behoorlik daardie dag gestaan, soos hulle deur die water geklief het.

Die Engelsmanne het seker gedink Afrika se krokodille haal net die stadige ouens van so agter af, in.

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Spring weg
%d bloggers like this: