
Burger se blokkiesraaisel
Dit is blou Maandagoggend en ek is die wiskunde in vir Burger se blokkiesraaisel. Die folteraar wat die ding opstel het my hele dag opgefoeter met woorde soos lons, broes, norra en astenie. Kan hy nie Afrikaans skryf nie?
Lons is volgens hom ʼn perd aan ʼn lang riem wat om en om hardloop. Jy lons glo jou perd. Magtig man, die perd hardloop in die rondte, hy lons nie.
Of bedoel jy hy lons ʼn perdevy?
Broes is volgens hom ʼn sproeikop van ʼn gieter, ʼn stort of ʼn tuinslang. Nou waarom dan die woord broes uitdink, dit klink nie helfte so mooi soos sproeikop nie. Sproeikop is so ʼn mooi woord. In Virginia Volkskool het daar ʼn pragtige sproeikop langs my in die sangklas gesit. Haar naam was Lila en ek het altyd haar toebroodjies gesteel. Deesdae wonder ek wat tog van haar geword het?
Norra is die agterste deel van jou nek en astenie is kragteloosheid, soos vodde wees. Ai tog, hoe dink jy nou sulke woorde uit?
Norra…norra… Hoekom gee jy jou dekselse nek ʼn vrouenaam? Wat is met jou aan die gang, man? Kamtige slim blokkiesraaiselman van die Burger. En moenie my vertel dat die Burger kwansuis een van die grootste Afrikaanse oggendkoerante ter wêreld is nie, ek weet dit.
Astenie. Wat ʼn dom woord. Ek hou meer van vodde. Soos na Comrades, poer in jou vodde in. Kragteloos, magteloos, moeg tot die dood toe. Vodde. Maar astenie ? Gmmf…..
Ek stuur vir jou ʼn woordeboek vir Kersfees, die nuwe HAT sakwoordeboek. Is die Burger se adres nog dieselfde ?