Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Walvisbraai

Klein kannetjie staan skoorvoetend so neffens my by die kampterrein en hy wil tog so graag gesels. Ek vertel hom toe maar van die walvis wat ek net-nou in die waterkuil langs die kampterrein wil gaan vang. Ek kan in sy oë sien hy wonder of hy die ou korrelkop oom moet vertrou, hy glo my net so halfpad. Ek versterk hom in my eie kwaad en verduidelik dat ek die walvisse gewoonlik aan hulle sterte gryp en oor my skouer gooi, reg vir die braaipan. Kannetjie lyk bietjie wantrouig, maar uiteindelik wen sy Afrikaner ordentlikheid en hy bied aan om te help om die walvis op te sny, wanneer ons hom klaar gevang het. In sulke klein stukkies beduie ek vir hom, sodat sy stert in die pan daar oor die vuurtjie kan pas.
Ja swaerie, dink ek toe ons so kuil se kant toe stap, ek bedoel dit goed en trek jou been met my stories, maar so gaan baie ouens nog vir jou in jou lewe lieg. Veral Suid-Afrika se politici wat jou aanhoudend vertel waarom hulle meer geld, motors en luukse oorsese vakansies op belastingbetalers se onkostes moet kry. Selfs ʼn hospitaal vir privaat-gebruik en fênsie voetuie vir sy baie vroue, soos daardie Zuma politikus ʼn rukkie gelede ons probeer wysmaak het. 
Ons het toe daardie dag niks walvisse in die Noord-Transvaalse waterkuil gevang nie en die kannetjie was ietwat teleurgesteld. ʼn Lekker worsbroordjie op die vuur het hom bietjie getroos. Ek hoop maar die kannetjie besef eendag dat my walvisstorie nader aan die waarheid was, as enige politikus se liegstories.

😃

Sit daai roomys sagter

Sit voor die tee-vee en rugby kyk, kykstokkie in die hand. Cheetahs verloor al weer, verdomp. Belinda staan voor die yskas, maak bak roomys met ‘n lepel sag. Verneem beleefd wat sy doen. “Die roomys is kliphard, ek maak dit sagter,” antwoord sy. Kwartel-dowe ek – hoor net, ‘sagter.’ Vat toe maar die kykstokkie en gehoorsaam sit ek die tee-vee sagter. Sy lag nou nog vir my. 😀😡

Kinders moet kaalvoet loop

“I do not agree with what you have to say, but I’ll defend to the death your right to say it”

  • Voltaire – (Francois-Marie Arouet)(1694-1777)

Kinders moet kaalvoet loop

My ma Babs, Renè en Lindi se ouma, het elke kind in Aberdeenstraat, Virginia geken. Elke ma en pa, tannie, oom, elke hond, kat, blaar en blom.  Sy was die beste netwerker in die Vrystaat, maar kon ‘n stewige pakslae met ‘n lag en traan uitdeel totdat ek besef het daar is regte en verkeerde maniere om dinge in die lewe te doen. En dit berus op wysheid.

Maar hoe leer jy jou kind om te onderskei tussen reg en verkeerd, om te help met stoele wegpak nà Kinderkrans, om die Bybel te lees in plaas van Mein Kampf of Karl Marx se Das Kapital? Of moet ons juis ons kinders aanmoedig, soos my pa Kobus met my gemaak het, om Leon Uris, Gore Vidal, Herman Wouk, Adolf Hitler, Marx en Engels, Leipoldt, FA Venter, Langenhoven, David Ben Gurion en dertig ander skrywers te lees. “Jy is in standerd agt, oud genoeg, lees, anders gaan jy nooit verstaan hoe die wêreld werk nie. Read, or remain stupid forever,” was een van sy gunstelinge.

Elke ouer se wens vir hul kind is om min of meer ‘n geletterde, gebalanseerde grootmens te word sonder om in die tronk te beland, op veertien jaar betraand te bieg dat sy ‘n baba verwag, op sestien tydens ‘n laat aand met hoërskoolvriende dwelms gebruik (“net om te voel hoe voel dit, ma”), òf om nà matriek vir jare doelloos deur die lewe rond te dwaal. “Ek vat net ‘n gaapjaar, pa.”

Kinders moet kaalvoet loop, speel en swem en boomklim, maar ook lees en ondervind en ondersoek en ontdek sodat hulle darem een of ander verwysingsraamwerk het om ‘n lewens- en wêreldbeskouing mee te vorm. Hoe doen jy dit as jy niks weet nie, òf dink kennis kom uit Google of ‘n XBOX?

Christen ouers in Suid-Afrika het die moelikste taak van almal. Die land is nà apartheid in ‘n politieke gemors van korrupsie, wanbestuur, morele verval en misdaad.  Elke ouer wat die beste toekoms vir hul spruite en nageslag hoop, se ergste nagmerrie. Hoe bly ‘n kind kultuurvas-normaal, gebalanseerd, ingelig en toegerus om die toekoms aan te pak sonder om rigting te verloor, ‘n kommunis te word en ‘n Christen te bly wat weet hoe om geld te maak om selfversorgend te wees? Hoe gaan hy of sy weet wie Langenhoven was, Danie Theron, Barry Hertzog, DF Malan en Eugene Marais, Herman Charles Bosman of Frederik van Zyl Slabbert?  Vra jy vandag se Afrikaansprekende kinders wie AG Visser, Uys Krige, Adam Smal, SV Petersen, Opperman, Totius, Boerneef of Eitemal was, dink hulle jy is mal.  Hoe Afrikaners van 1899-1902 vir hulle land moes veg en dit toe verloor het, hoe om sinvol in ‘n land met ‘n Swart meerderheid en Blanke minderheid produktief te bestaan sonder om kwaad en opstandig te word en dan tasse te pak om onthuts Australië toe te emigreer?

Die sleutel lê in die opvoeding van jou eie kind.  Skole en kerke en portuurgroepe speel ‘n marginale rol as dit kom by metodes om jou kind vir die toekoms voor te berei.  Dit is jou verantwoordelikheid om te voorkom dat jou kind Amerkaanse aktrise-sothede uit Huisgenoot by ‘n ambassade kelkie kwytraak en nog nooit ‘n pragtige gedig van NP van Wyk Louw of Joan Hambidge of Daniël Hugo gelees het nie.  Afrikaners is nie net plesierig nie, ons is ook oningelig, polities naïef, kultureel bekrompe en dwergies wanner dit by ons kinders en nageslag se lewens- en wêreldbeskouing kom. My filosofiese helde is baie, Uilspieël, Inspekteur Clouseau, Don Quixote, Jean-Jacques R, Hegel, Kant, Kierkegaard, miskien Paulo Coelho – die skool of universiteit het dit nie vir my geleer nie, ek moes self uitvind.

‘n Afrikaanse ouer vra my noudie-annerdag wie Langenhoven was – ek moes vir my ‘n koppie boeretroos gaan maak om te herstel. Ek wou hom eers antwoord dat Langenhoven vleuel speel vir Vrystaat, want daarvan weet hy baie, maar byt my tong net betyds. “My volk gaan te gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis,” treur Hosèa êrens in die Bybel (dink ses).

Nee my vriend, ons volk gaan ten gronde omdat ons Frengels praat en nie lees nie.

*

Verstrooidgeit

Verstrooidgeit

Ouderdom bekruip jou stilletjies uit alle rigtings, iets wat my nog teleurgestel het, maar nie verbaas nie. Dit gebeur met almal. Elke oggend vroeg kry Belinda tee en ontbyt in die bed, vrugte en hawermout met neute en goeters om dit lekker te maak. Ek en ʼn kombuis is nie juis vriende nie, ek het al ʼn paar met my manewales afgebrand. Terwyl ek Belinda se dag probeer beter maak, bederf ek dikwels my eie, veral as ek probeer koffie met twee suikers probeer maak. Die houertjie lyk bietjie snaaks in die half-donker en die suiker te fyn, maar ek gooi maar. En roer in die donker, hy maak so skuimpie wat al in die rondte dryf. Die koffie proe soos katzendrêk, ek hoes en proes dat die Avo skoon weghardloop en skuiliing soek.

Ek kon nog nooit mooi tussen suiker en sout onderskei nie… Ek moes nog helfte van my boerbeskuit ook weggooi. Verdomp. 😝😠☕️

A votre sante


Na baie jare haal ek onlangs ʼn langvergete rooi botteltjie uit. As ek reg onthou, het die bottel wyn iets met ‘n dame te doen gehad, met losse sedes. Praat nou van die meisie op die etiket, nie diegene langs die strate van Pigalle waar ek en Lionel op die trappe gesit en filosofeer het nie. Ek het die rooi botteltjie 21 jaar gelede in Frankryk gekoop, Cahors as ek reg onthou. Jy spreek hom Ka-hôr uit, met ʼn sagte ‘r’ agter in die keël. Waarom is dekselse Franse wyn altyd lekkerder as Suid-Afrikaanse wyn? Lionel (Lèè-ou-nel)(hy praat nét Sorbonne Frans), was al in Stellenbosch, sê vir my ons kan miskien witwyn maak, maar van rooiwyn weet ons net mooi niks. Net die Franse kan rooiwyn maak. Ons het skemertyd op die trappies voor die grasieuse Sacré-Coeur Basilica gesit met die rooi bottel en so oor die kunstige Montmartre en die elegante Parys uitgekyk. Eers later tot my deurgedring dat ons op die beroemde ou kerk se trappe sit en drink het. Die uitsig oor die rooi en wit dakke was asemrowend, die sonsondergang oor die Seine in die verte ootmoedigend. Net soos die wyn. Mens het nooit ʼn rede nodig om ʼn glasie wyn in Parys te drink nie… al is dit op die verkeerde plek.
🍷🍷

Burger se blokkiesraaisel

Burger se blokkiesraaisel
Dit is blou Maandagoggend en ek is die wiskunde in vir Burger se blokkiesraaisel. Die folteraar wat die ding opstel het my hele dag opgefoeter met woorde soos lons, broes, norra en astenie. Kan hy nie Afrikaans skryf nie?
Lons is volgens hom ʼn perd aan ʼn lang riem wat om en om hardloop. Jy lons glo jou perd. Magtig man, die perd hardloop in die rondte, hy lons nie.
Of bedoel jy hy lons ʼn perdevy?
Broes is volgens hom ʼn sproeikop van ʼn gieter, ʼn stort of ʼn tuinslang. Nou waarom dan die woord broes uitdink, dit klink nie helfte so mooi soos sproeikop nie. Sproeikop is so ʼn mooi woord. In Virginia Volkskool het daar ʼn pragtige sproeikop langs my in die sangklas gesit. Haar naam was Lila en ek het altyd haar toebroodjies gesteel. Deesdae wonder ek wat tog van haar geword het?
Norra is die agterste deel van jou nek en astenie is kragteloosheid, soos vodde wees. Ai tog, hoe dink jy nou sulke woorde uit?
Norra…norra… Hoekom gee jy jou dekselse nek ʼn vrouenaam? Wat is met jou aan die gang, man? Kamtige slim blokkiesraaiselman van die Burger. En moenie my vertel dat die Burger kwansuis een van die grootste Afrikaanse oggendkoerante ter wêreld is nie, ek weet dit.
Astenie. Wat ʼn dom woord. Ek hou meer van vodde. Soos na Comrades, poer in jou vodde in. Kragteloos, magteloos, moeg tot die dood toe. Vodde. Maar astenie ? Gmmf…..
Ek stuur vir jou ʼn woordeboek vir Kersfees, die nuwe HAT sakwoordeboek. Is die Burger se adres nog dieselfde ?

Die Pooltjie

Ek gesels met ʼn Poolse joernalis wat in die land is om ʼn storie oor Eugene Terre’Blanche te skryf. Hy ry Ventersdorp toe waar hy by ʼn Ierse vriend gaan bly, so vertel hy. Die Ier bly al lankal in Ventersdorp, dertig maer jare en sy oupa het aan die kant van die Boere teen die Engelse geveg. Dit is nou so daar in 1899-1902 se tyd met die Tweede Boere-oorlog. Tjaa… hy sê die Ier bly al dertig jaar in Ventersdorp en hulle noem hom nog die ‘nuwe ou.’
Ek vertel hom dat daar reeds ʼn boek oor Terre’Blanche verskyn het, deur Amos van der Merwe. Die Pool is skoon verbaas daaroor – hy het gedink hy doen baanbrekerswerk.
Maar hoekom Terre’Blanche? vra ek hom nuuskierig. Waarom op aarde stel die mense in Pole belang in ʼn Afrikaner boer wat die leier was van die AWB?
Die Pooltjie verduidelik woes, maar hy gebruik soveel woorde dat niks sin maak nie. Ek dink die man piepie teen die Suidooster, ek sê maar niks. Ek dink die meeste Pole weet nie eers mooi waar Afrika is nie, wat nog Ventersdorp. En ek vra waarom hulle nou juis ‘n boek oor ‘n vergane Suid-Afrikaanse politikus sou wou lees, maar hy kug net vaagweg.
Toe vra ek hom maar wat hy van ons korrupte, pro-Chinese kommunistiese regering dink.
Hy dink nog aan ʼn antwoord.
*

Boerbeskuit

Knorrige ou oom

Boerbeskuit is vir Vrystaters soos manna uit die hemel, maar nie as die dekselse goed jou vermy of met jou baklei nie.

Soos dit ʼn opregte Vrystater betaam, gooi ek vanoggend ʼn stuk winkelbeskuit in my koffie en probeer hom met my teelepel verdrink. Die verdomde ding wil nie sink nie en pop sy kop aanhoudend soos ʼn drenkeling uit. Druk ek links met die teelepel, dan spring die bokkertjie regs uit. Val ek regs aan, swenk hy rats anderkant toe. Verdomde ding!

Vars gewapen met ʼn groter houtlepel uit die kombuis, probeer ek die winkelbeskuit slaan dat hy hystoe verlang, maar hy pypkam link-om soos ʼn lewendige paling in ʼn pot kokende sop. Nou is ek kwaad, en honger. Ek gaan haal ʼn silwer soplepel uit die kombuis, groter is as ʼn sopbord, maar hy pas nie in my beker boeretroos nie. Die dekselse stuk winkelbeskuit lê skaamteloos vir my en grynslag.

Ek is smoorkwaad en gaan haal my wynpars uit die motorhuis. Nou gaan ek jou ʼn dure les leer, jou maaifoedie. Maar die wynpars is te sterk en breek my beker boeretroos middeldeur, jy sien net skerwe spat. My oranje Cheetah-koffiebeker is stukkend en die winkelbeskuit lê ongedeerd op die vloer. Ek kon sweer hy hou sy maag vas soos hy lag.

Knorrend op pad motorhuis toe, gooi ek die swernoot by die venster uit, vir die Egiptiese eende hierbuite. Hoop hulle verstik aan die blêddie ding. Ek is oppad Vrystaat toe, om ʼn regte stuk boerbeskuit by ʼn egte boeretannie op ʼn regte Vrystaatse plaas te gaan koop. ʼn Gehoorsame stuk boerbeskuit, een wat luister as jy met hom praat.

Kry vir jou ʼn prokureur

Ons kyk na een of ander raserige Amerikaanse fliek op teevee, ons held diep in die moeilikheid by sy aanvallige metgesel. Smoorkwaad snou sy hom iets toe, maar kwarteldowe ek hoor nie mooi nie. “Wat sê sy?” Ek druk die kykstokkie twee keer, maar hoor niks. “Waarom sê sy vir hom; “you better get yourself a glass of water? Wat het dit nou met die storie te doen?”

Belinda val van die bank af en rol op die mat rond soos sy lag. Die kat laat spaander in alle rigtings. Naderhand kry sy haar asem terug en sit hygend regop. “Hy het… hy het… gesê… “you better get yourself a damn good lawyer.” Toe begin sy weer lag. 😅

Wat het van die Huisgenoot geword?

Dit is bloudonnerweer Maandag en ek is vanoggend sielsongelukkig. Sommer vies en kwaad gelyk en die koue Kaapse winterreën help niks nie.

Die Huisgenoot het altyd sulke ordentlike leesstories gepubliseer, nou is dit net moord en doodslag en oppervlakkige diepte-artikels oor die een of ander Amerikaanse aktrisietjie se dekadente en hoogs vervelige liefdeslewe.

Ag-nee man! Waarom moet alles so agteruitgaan? Wie gee nou wragtag om watter aktrise nou watter rok gedra het, of haar krom hare nou reguit maak, of dat sy vergeet het wie die pa van watter een van haar swetterjoel kinders is?

Ek kry noudie-annerdag by Gordonsbaai se biblioteek ʼn juweeltjie in die hande, Lapa se ‘Tydskrif 3 (Julie 2003) – ʼn herontmoeting met Afrikaanse kortverhale uit die veertiger- en vyftigerjare.’ Die meeste van die verhale, deur die room van Afrikaanse skrywers en digters van vroëer jare, het in die Huisgenoot verskyn. Die name van legendes en ikone van die Afrikaanse verhaalkuns spring van die bladsye af; Jan Rabie, Uys Krige, Sita, Andrè P Brink, Bartho Smit, Ina Rousseau, ID du Plessis, Abraham de Vries en nog vele andere.

So lekker soos die sjokkeladekrummels wat ek altyd onder my ma Babs se koekpan in die kombuis gelek het, so lekker is dié stories. Regte stories, van regte mense se lief en leed tot staaltjies en kibbeltjies uit Suid-Afrika se hartseer verlede. Die stories is ook skreeusnaaks, reguit en akkuraat soos jy ʼn ding net in Afrikaans kan sê, met kwinkslae en pakslae vir hooghartiges en hoogdrawendes. Soeter as ʼn Bolandse muskadeltjie is die stories – ag, dit was nou lekkerlees.

Maar dit is die advertensies wat my laat verkneuter. Wanneer laas het jy van woorde soos ‘apieskorreltjiesgrondboonbotter’ gehoor, of ‘Singer se ‘egte Afrikaanse grammafoonplate’ en Tromp van Diggelen se ‘gewaarbogde middels’ teen oortollige gewig, vrouekwale, verkoue en swak harte? Of ‘Dr Williams se pienk pille’ wat jou gaan help om van jou senuweeagtigheid en lusteloosheid ontslae te raak?

Te lekker vir woorde. My moderne Huisgenoot my sy aktrisetjies beland in die asblik en ek gaan maak vir my ʼn lekker emalje-bekertjie boeretroos. Genoegsaam trek ek die ou leesgoed van toentertyd nader en my blou Maandagoggend lyk sommer beter. 😉