Die Comrades Marathon is ʼn formidabele uitdaging, ʼn tierkat wat nie sonder handskoene of ʼn paar goed-uitgetrapte tekkies aangepak kan word nie.

Sedert 1921 pak ʼn groepie geharde langasems elke jaar die langpad tussen Pietermaritzburg en Durban aan, waarom weet niemand nie. Dit is nie goeie maniere om ʼn Comrades-hardloper te vra waarom hy of sy so dom en hardloppig en stupid is om negentig kilometer aanmekaar te hardloop nie. Dit is tog net ʼn manier om ʼn lat vir jou eie agterstewe te pluk en ek moet erken, ons drawwers het nie juis ʼn rasionele antwoord op die vraag nie . Self hardloop ek vir die lekker koppie groentesop en sny bruinbrood wat hulle in die Kingsmead-stadion verniet vir jou gee as jy klaarmaak.

Die Psalms praat van berge en dale en glo my, op die Comrades-roete is daar baie van hulle, letterlik en figuurlik. Mens gaan nie Comrades toe met voorbedagte rade om êrens langs die pad te begin bid nie. Dit werk nie so nie en jou gedagtes is in elk geval die hele dag met ander dinge besig. Belangrike dinge soos ‘hoe naby is die volgende waterpunt, wie se idee was hierdie, wat doen ek hier, waarom speel ek nie liewer tafeltennis nie?’ En ‘ek belowe om nooit as te nimmer weer so ʼn onnosele donkie op t e saal nie.’

Berge en dale in Comradestaal beteken dat jy by tye swaarkry en ander tye swaarder. Maklik is dit nou eenmaal nie en groentjies wat vir die eerste keer die lang tog aanpak, word grynsend gewaarsku oor al die gevare wat op die roete wag. Die wedloop het ʼn manier om van so sestig-sewentig kilometer af met jou kop te mors, jou i.k. drasties te verlaag en jou van jou sinne te beroof. Die berge lyk al hoër en die dale al hoe dieper. Só diep dat jy dink jy gaan nie aan die ander kant uitkom nie. Op een Comrades knoop ʼn hardloper van Wallis ʼn moeë gesprekkie met my aan. “I don’t know what the hell I am doing here” refrein deur my ore en dit is duidelik dat ek en hy aan twee verskillende soorte helle dink.

ʼn Gunsteling dominee preek eenkeer van stil en rustig word, stilte en rustigheid in ʼn woelige wêreld en roesmoesstemme. Wanneer dinge moeilik gaan op Comrades, maal jou gedagtes sonder remme en dan moet jy hulp vra. Hulp van Bo om jou maar net deur hierdie dag te kry, die selfopgelegde pyn bietjie minder te maak, net ʼn bietjie onderskraging om bo-op Fields Hill of Inchanga of Polly Shorts te kom. So ʼn kitskoffie-gebed om jou uit hierdie penarie te red, dat jou bene ophou brand en jy die dekselse roete kan klaarmaak, sodat jou familie, vriende en werksgenote trots kan wees op jou. Heimlik weet jy dat dit eintlik gaan oordat jy bietjie wil brag, jy het immers een van die taaiste sportuitdagings in die wêreld voltooi. Ek grap nie, Comrades is wêreldbekend. Ek stap eendag met ʼn Comrades T-hemp aan deur Chicago en ʼn Amerikaner storm opgewonde op my af toe hy die embleem erken. Hy het amper my handtekening gevra.

Op tagtig kilometer lê Polly Shorts en wag, ʼn intimiderende uitsig vir ʼn vodde ou met flenters bene nà heeldag in die warm son. Dit maklik om te bid wanneer die biesies bewe, maklik om dan hulp te vra en hoop vir die beste. Paulo Coelho se boodskapper-ritueel spring in my gedagtes rond, vure na links en na regs, voor en agter jou. “Let your mind wonder and your thinking flow without constraint,” adviseer dié beroemde skrywer ons. Al waaraan ek kan dink is die vuur in my bene en in my rug, maar ek fokus op die boodskapper waarvan Paulo praat. Is Jesus Christus die boodskapper of is ek die boodskapper op hierdie uitmergelende dag?

Mettertyd skuif my gedagtes na die pragtige vensters in Renaissance se kapel in Pretoria en Notre Dame in Parys, waar ek ure kon sit en dink en staar. Vensters met die mooiste kleure wat ʼn heerlike rustigheid bring, ʼn saligheid wat jy nie met geld kan koop nie. Herinneringe na Jannie se hande wat dansend oor klawers streel en Adrie se viool wat ʼn engel uit die hemel vir haar gegee het. Geleidelik word die ongenaakbare teerpad ʼn pelgrimstog deur die Vallei van ʼn Duisend Heuwels, Paulo se wandelpad op die Santiago de Compostela, die brandson jou Noordester. Die sonbesies se dreunsang klink skielik of ʼn toonsetter daarmee besig is, hulle maak agtergrondmusiek vir my tekkies se doef-doef na bo.

‘Soek die goue draadjie in elk dag, in elke mens, in elke oomblik,’ sê Anna Garcia en ander vooruitdenkendes vir ons. Hoe kan mens Comrades liefhê as die ding jou so seermaak? 1 Korintiërs 2:9 lees ‘Wat die oog nie sien nie, die oor nie hoor nie, wat nie opgekom het in die hart van die mens nie… het God voorberei vir die wat Hom liefhet.’ Die lewe is netmaarso, seerkry moet mens maar op jou lewenspad. Ouers verloor is die swaarste van alles. Daarteenoor is Comrades ʼn vulletjie en met dié goue draadjie ryg ek myself tot bo-op Polly Shorts.

Rustig draf ek die laaste paar kilometers verby Jessop Road, derduisende mense wat handeklap en skree, van die eerste hardloper tot die laaste. Stap stadig deur die lewe, is een van Paulo se lewenslesse. Draf nog stadiger, dan sien jy die mooiste dinge raak. Jy asem die lewe in jou longe in, ruik die grond, hoor skoenlappers se vlerke en sien glimlaggende mense wat op die stadion se sinkplate klap en dreun.

Van hardop bid het ek lankal vergeet, want saggies dankie sê oor die wenstreep is baie beter as enige medalje.

*

Henning van Aswegen het tien Ystermanne en Comrades-marathonne voltooi en wonder steeds waarom.

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Spring weg
%d bloggers like this: