“Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”

(Fillipense 2:4)

“Calla, weet jy wat staan in Fillipense twee vers vier?”

“Somtyds,” het my ou maat en mede-Vrystater lakonies geantwoord, terwyl hy nog ʼn skaapappeltjie sy kieste inrol. “Dit het iets met Abeldammers en Kokkermouse te doen. En Sandvelders.”

“Waarskynlik min of meer waar,” het ek besadig geantwoord, “maar dit het meer te doen met party mense wat nie ander mense se belange op die hart dra nie. Soos rugbyspelers.”

Vreemd dat so ʼn vraag jou aan ʼn rowwe rugbywedstryd in 1972 teen die Blouskool in Kroonstad laat terugdink. (Kroonstad het ʼn Blouskool wat Kroonstad Hoërskool genoem is en ʼn Rooiskool wat iets met die kinders se hakskene te doen gehad het). Dit was die wintersdag waarop die Blouskool se voorspelers nie my belange op hul harte gedra het nie. Die helfte van daardie pak voorspelers was Abeldammers en die res Kokkermouse.

Meeste van die Abeldammers was tawwe delwers en bywoners wat in die vierkant tussen Kroonstad, Bothaville, Sandveld en Hoopstad grootgeword het, so tussen die Renoster- en Valsriviere. Van daai manne was bekend as kanaalape en damduikers wat appels geswaai het vir ʼn lewe. Die laaste ding wat jy in 1972 op hierdie aarde wou doen, is om op ʼn yskoue Vrystaatse winteroggend teen hulle rugby te speel. Die Abeldammers was daarvoor bekend dat hulle vroeg-oggende knorrig was van te min slaap, omdat hulle om middernag beddens omruil sodat al twintig susters en broers darem ʼn gelyke nagrus inkry. Hulle het ook gereeld die donkies en perde in die omgewing se mielies gesteel.

Die Kokkermouse was van ʼn effens hoër ekonomiese- en sosiale klas as die Abeldammers en meesal van die gebied tussen Bloemhof en Hoopstad afkomstig. Ook maar hul lewens op plase en in koshuise deurgebring, net soos ons Goudvelders. Nie dat die Kokkermouse heeltemal kultuurloos, kerkloos en reddeloos was nie. Ons gewilde Afrikaanse onderwyser, meneer Koos Fick het altyd gesê; “kom ons praat en lees Afrikaans mense, kultuurdiere kan julle later word.” Maar rugby kon die lotjie speel en dit is waarom ek vandag nog ʼn diepgewortelde wrok teen die Abeldammers en Kokkermouse in my hart dra. Ek en my voorkop wat sonder velle uit daardie rugbywedstryd gekom het.

Die Derdes moes maar altyd op die verste veld van die pawiljoen af speel, daar waar niemand ons regtig raaksien nie en met die skeidsregter se dowe oupa as enigste toeskouer. Nie juis die plek waar daardie klomp Blouskool-voorspelers aan my belange gedink het, toe ek as plaasvervanger skrumskakel nà ʼn hopelose lynstaan die bal op ons doellyn mistas nie. Ek verstaan tot vandag toe nie waarom die Abeldammers en Kokkermouse ons Goudvelders so haat nie en waarom hulle nou juis almal op my kop moes duik het nie. Al agt daai voorspelers het gelyk op my geduik, die skeidsregter en sy dowe oupa ook.

As gevolg van my swak spel het ons Derdes die game verloor en moes ek van Kroonstad af terugstap Welkom toe. Daar was nie plek op die bus vir skrumskakels soos ekke wat nie ʼn bal kan vang nie. Die vyf dae se stap in die bloedige son terug Welkom toe was lank en eensaam, genoeg tyd om diep te dink oor Fillipense 2:4. Hoe die Bybel sê mens nie net na jou eie belange moet omsien nie, maar ander mense se belange ook. Jy moet daai belange op jou hart dra. Soos die Voortrekkers van ouds, moes ek deur beide die Vet- en Kleinvetriviere stap en deur die magtige Sandrivier stroom-op verder Suid swem. Deur Virginia tot in Welkom, waar die koshuistannies my nie weer in die koshuis wou toelaat nie. Die koshuisvader, meneer Ludick, se hond het ook nog vir my geknor toe ek nà donker by die koshuis se agterdeur wou insluip. Ek was sò mismoedig dat ek daardie aand maar alleen na Squad Cars en The Three Wise Men op Springbokradio geluister het.

Die afrigters van Goudveld se rugbyspanne het nà afloop van die 1972-seisoen in hul jaarverslag geskryf dat al die spelers, met uitsondering van een, geesdriftig geoefen het en goed gespeel het. Die spelers het deurentyd gepoog om aantreklike rugby te speel en met die uitsondering van een, deeglik daarin geslaag. Sulke op- en aanmerkings het my diep seergemaak en ek het amper aan die einde van standerd agt by die Franse Vreemdelegion gaan aansluit.

Tot vandag toe nog, wanneer ek in die spiëel na my afdraande gesig en opgefrommelde voorkop kyk, weet ek diep in my binneste dat die Abeldammers en Kokkermouse die dieper betekenis van Fillipense 2:4 nie mooi verstaan het nie.

*

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Filippense 2:4

    Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Spring weg
%d bloggers like this: