Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Mens sal dit nooit sommer so sê nie, maar in die jare tagtig was ek ʼn effense knorrige ysterman wat eenkeer aan die Amerikaanse driekampkampioenskappe in Chicago se Michigan-meer deelgeneem het.

Al die Amerikaanse driekampatlete het sulke fênsie en baie duur polistireen ‘wetsuits’ gehad om die 14˚ grade water in die Groot Mere te trotseer. Daar is vyf Groot Mere; Superior, Huron, Michigan, Erie en Ontaria, waarvan Michigan die koudste is. Arm Vrystater wat ek was, daag ek op met twee silikoon swempette en ʼn verweerde blou Speedo wat verlede Saterdag in ʼn waterpolowedstryd geskeur het. Waterpolospelers druk mos hul hande in mekaar se swembroeke in, kyk maar net op teevee hoeveel kere vat hulle die bal mis.

Die 1500 meter yskoue oopwater swem en tien kilometer hardloop aan die einde was nou nie sò ʼn groot uitdaging nie, maar die veertig kilometer fietsrybeen wel. Fietse het maar eers in die vroëe tagtigs hul verskyning in die Vrystaat gemaak en ons was nog nie heeltemal vertroud met dié masjiene nie. Trekkers was goed genoeg om dorp toe en terug plaas toe te ry. Ons Vrystaters skeer nooit en vir niemand ons beenhare nie, seker dié dat fietsry nooit tussen die mynhope en mielielande aftrek gekry het nie.

Ewenwel, die water in Chicago was daardie dag sò koud dat jy die sneeu op die berge oorkant die Michigran-meer in Kanada kon sien. Die hawepier was drie meter bokant die snerpende water en ons moes inspring toe die skoot klap. (HAT sê ons moet nie van ʼn ‘pier’ praat nie, liewers wandelhoof). Daardie water was sò koud dat helfte van die Amerikaners in die middel van die afspring omgeskakel het trurat toe en weer terug op die wandelhoof beland het. Die res van ons het geswem dat die stof so staan.

Die water was boudjiesknypkoud, soveel so dat ek heeltyd bo-op geswem het en nie juis nat geword het nie. Sowaar, ek heeltemal droog aan die anderkant uitgeklim en na my fietsmasjien toe gedraf.

Op my knorrige oudag kom die herinneringe maar stadig en ek onthou dat die USTS (United States Triathlon Series) deur Mrs T’s Cookies geborg is. Sy, dit is nou die regte Mrs T, was skatryk en het op een of ander Amerikaanse professionele driekampatleet verlief geraak en die hele reeks driekampe geborg. Of Mrs T en die driekamper kinders gehad het, weet ek nie. Maar dit is lekker om te onthou dat ek eens op ʼn tyd aan ʼn driekamp deelgeneem het wat na ʼn koekie vernoem is.

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: