Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Kapstok is ʼn pragtige, akkurate Afrikaanse woord, maar ek hou meer van skaapbok, soos in ‘scapegoat.” In die Bybel word die skaapbok (azazel – ‘a-‘aza’zeyl in Hebreeus), handig en ritualisties gebruik om van die sondes en oortredinge van die Joodse volk ontslae te raak. Terwyl een arme bok geoffer word, dra die tweede ‘skaapbok’ die gelowiges se skuld weg, saam met hom die wildernis in. Soos die bok met die sondes van die wȇreld op sy skouers woestyn toe stap, glo dié wat agterbly dat hulle nou verontskuldig is van alle blaam en aanspreeklikheid vir hul eie sondes en korrupsie. Gerieflik om so ‘n skaapbok naby hȇ, want sodra daai bokkie die pad vat, is jou sondes blykbaar vergewe.

So gaan die Coronavirus van 2020 deur die mees korrupte regering in die geskiedenis van die mensdom, gebruik word as skaapbok vir Suid-Afrika se ekonomiese mislukking nà apartheid. Corona gaan ʼn handige kerklok word waaraan die ANC/SAKP sy staatskaping en mislukking hang. Apartheid was tot nou toe die voorkeur-skaapbok, maar jy kan ʼn dooie perd net soveel keer slaan voordat die toeskouers (lees internasionale stategemeenskap), vir jou begin lag omdat jou integriteit daarmee heen is.

Die ANC/SAKP het van 1921 af aan die hele wȇreld vertel dat dit sy hoofdoel, sy credo, sy doktrine, sy hartsbegeerte is om van apartheid in Suid-Afrika ontslae te raak. Rubbish. Die ANC se hoofdoel was nog altyd om deur middel van gewapende stryd en rewolusie ʼn sosialistiese staatsbestel in Suid-Afrika te vestig. ʼn Doel waarin hulle in 1994 voor ʼn handwringende en goedkeurende internasionale gemeenskap, goed geslaag het.

Dít is die storie wat die ANC/SAKP oor homself wil skryf – die helde wat Suid-Afrika uit sy uur van nood gered het. Die teenoorgestelde is egter waar. Die ANC/SAKP is die mees narcisistiese politieke party ter wȇreld – hulle probeer aanhoudend ekonomiese krisisse wat deur hulself geskep is, op te los. Voorbeelde van hierdie wanbestuur en korrupsie is legio; Sarafina, die wapenskandaal, Eskom, SAL, SAUK, 450 bankrot staatsondernemings, Nkandla, miljoenȇr staatsamptenare en biljoenȇr ministers, terwyl die volk in shacks krepeer en niemand meer huise of motors kan bekostig nie.

Die ANC/SAKP hou eenvoudig nie op om Suid-Afrika se ekonomie te destabiliseer nie. Die land se infrastrukteer word daagliks ondergawe; lughawens, paaie, skole, hospitale, telekommunikasiesisteme en toksiese watersisteme, almal in staatsbesit. Elektrisiteitvoorsiening deur die kommunistiese monopolie-staat sink onder korrupsie, diefstal, wanbestuur en kragonderbrekings. Paaie word stelselmatig vernietig deur slaggate, kamikaze-taxis wat dood- en verwoestig saai en tolhekke wat staan en verroes in die wind. En al waaraan die ANC/SAKP kan dink, is om apartheid en die Coronavirus te blameer.

Die lewens van Suid-Afrika se toenemend-armwordende bevolking is die bladsye waarop die ANC/SAKP nonchálant Suid-Afrika se geskiedenis probeer herskryf.

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: