Design a site like this with WordPress.com
Spring weg

Geduld is die moeder van alle wysheid. Geduld, wat Suid-Afrikaners natuurlik nie het nie, ons is die ongedissiplineerdste nasie op hierdie moederaarde.

Geen Suid-Afrikaner is dom genoeg om te beweer dat al die ANC/SAKP-regering se Corona-maatreëls slim is nie. Byvoorbeeld, taxis mag soos sardienblikkies rondry, maar kinders en honde dra swaar aan ons korrupsieregering se inperkingsbevele. Sosiale afstande word vir sommiges afgedwing, maar nie vir ministers, hul maskerlose assistente of Sassa-ontvangers nie. Stompsinnig.

Vrystaters skrik in die algemeen nie vir koue pampoen nie. Ook nie vir enigiets wat in Sjina gemaak is nie, want die goed breek kort voor lank.

Net so met die Sjinese virussie wat almal tans op hol jaag, soos jakkalse op soek na hulle eie sterte. Ons Vrystaatse Christene weet mos waar die Noordster is en laat ons nie maklik van stryk af bring deur dreigemente en bangmaak-praatjies nie. Ons plase en dorpe is vȇr uitmekaar uit en ons is gewoond daaraan om vir weke niemand anders as ‘n paar verlore skapies en mielies te sien nie. Nagmaal is net een keer ‘n maand op die dorp en dan staan jy maar in elk geval twee meter weg, want party ouens se pruimtwak ruik nogal sterk.

Anders as die Voortrekkers en PW Botha-FW de Klerk, weet ons Vrystaters hoe om saam te staan as die republiek bedreig word. Ons tap maklik al ons olie uit ‘n trekker uit om vir ‘n ou te gee wat nie meer brylcream vir sy hare het nie. Oom Schalk Lourens van Herman Charles Bosman het hoeka-toeka juis gesȇ dat ʼn ware vriend sy laaste rolletjie pruimtwak met jou sal deel.

Die Toyota Coronavirus het nie ‘n kat se kans teen die vernuftigheid van Vrystaatse tantes nie. My ma was een en sy het verbete geglo aan kasterolie en mecurochrome (ons het gesȇ mecurocrumb, soos brood), die enigeste twee medisynes op die aardbol wat regtig werk. Ek het eenkeer my sleutelbeen op Virginia-goudmyn se sokkerveld gebreek en toe kry ek mecurocrumb op die seerplek en kasterolie aan die ander kant. Dit het regtig gewerk, want jy sit die hele tyd op die toilet en dan het jy nie tyd om aan kleinighede soos gebreekte arms te dink nie.

As hierdie virussie weet wat op hom wag, sal hy definitief nie ‘n draai in die Vrystaat kom maak nie. Voor hy sy oë uitvee, word hy geskrop met suikerseep en ‘n draadborsel waar sy son nie skyn nie. Vrystaters sal maklik sy tong met blouseep uitgewas, ʼn dosis mecurocrumb op sy kop uitgooi en hom ʼn eetlepel kasterolie injaag om sake af te rond. Daardie bekende militȇre kamp net buite Bloemfontein, het in elk geval nog ʼn stoorkamer vol blou vitterjoel wat van my army-dae in die 1970’s oorgebly het. Teen hierdie tyd is daai vitterjoel al goed ‘gepurculate,’ net reg vir die toyota Coronavirus.

Ons Vrystaters is gereed, virussie, ons wag vir jou.

*

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: