ʼn Skerp, vinnige skêrmoordjie

Ek is nie skaam om te erken dat ek vêrlangs, baie vêrlangs familie van Daisy de Melker se aangetroude kleinniggie, Maria de Melker is nie. Ek is ook nie skaam om te sê dat ek ʼn storie oor Maria gehoor het nie. Ek weet nie of die storie waar is nie, of miskien net ʼn wolhaarstorie is nie. Besluit julle maar self…. want ek het gehoor dat Mariatjie de Melker die moord op haar man, Bertus Bruwêr, haarfyn beplan het. En daarmee weggekom het.

*

Min mense in Swellendam weet van die kafee se agterdeur, net langs die mans en dames toilette. Die gangetjie na die kafee se agtertuin is nou, effens donker, koud in die somer en amper onsienbaar in die mistige winter. Ideaal as iemand wil wegglip sonder om gesien te word. ʼn Beter alibi sal ek nêrens kry nie, het Maria de Melker by haarself geredeneer en ʼn pasgesteelde vleimskerp klein skêrtjie in haar wit sustersoorjas laat afglip. Sedert die nuwe bedeling is daar nie juis streng toesighouding of inventarisse vir mediese gereedskap in Swellendam se staatshospitaal nie. Enigiemand kan enigiets daar steel.

Bertus Bruwêr het mos net so ʼn identiese silwer skêrtjie – enetjie wat sy uit die hospitaal gesmokkel het en vir hom persent gegee het. Om sy aantreklike snorbaard en sy bakkebaard mooi in stand te hou. Daardie blink snor wat ander vrouens tog so aantreklik vind. Onweerstaanbaar aantreklik, kan Maria maar in haar stille woede sê.

Bertus Bruwêr se donker oë het op haar gerus toe hy vir jaarlikse ondersoek hospitaal toe kom. Hy en die doktertjie gesels oor metabolisme en hartklop en gesonde eetgewoontes vir middeljarige mans, maar Maria kon voel hoe daardie oë kriewelrig langs haar rug afgly na haar mooi bene toe. Elke keer as sy omdraai om vir die doktertjie iets aan te gee, het Bertus Bruwêr gulsig na haar bly staar en sy moes haar keer om nie ʼn kragwoord oor die onwelkome blos op haar wange te los nie. Mans kyk mos nie vir vrouens oor vyftig nie, het sy moedswillig gedink, veral nie een wat so stil en eenkant soos sy is nie. Veral nie getroude mans nie.

“So-ja, Bertus. Ons moet nog net ʼn bloedmonster trek, dan is alles hierdie jaar afgehandel. Ons hou die bloedmonsters hier in die hospitaal se vrieskaste, indien daar later verdere toetse nodig is. Suster Maria de Melker sal jou sommer help, sy is baie behendig met sulke dinge.” Sy bloed trek maklik en Maria sukkel effens om nie na haar asem te snak nie. So ʼn aantreklike, forse man, sulke mooi voorarms.

*

Nà sy egskeiding was Bertus Bruwêr ongeduldig om met haar te trou en in haar mooi grondwoonstel neffens die hospitaal en kafee in te trek. “Jou woonstel is so groot soos ʼn huis, Maria, plek vir ons almal. Jy weet mos daardie Marietjie het al my geld met die egskeiding gevat, nou soek ek ʼn gerieflike blyplekkie.” Hy het nie geweet dat haar woonstel en die hotel se kroeg en die kafee net oorkant Marietjie se huisie ʼn vierkant vorm nie, een wat maklik uit die hospitaal se groot vensters sigbaar is. Die hotel se kroeg, waar Bertus elke middag saam met sy sogenaamde vennote oor besigheid gesels het. Net om daarnà ongesiens by Marietjie se huisie ʼn draai te gaan maak. Elke middag, soos ʼn man op hete kole.

Maria staar ingedagte na die plakkaat agter die dokter se deur in sy spreekkamer. Die menslike skelet, met die hart en al sy rooi are wat bloed deur die liggaam pomp. Saggies laat sy haar vingers oor die rooi aorta se skerings langs die skelet se keel afgly. So ʼn mooi kleur, amper meer oker en koraal as rooi, so ʼn pragtige deel van die menslike liggaam, so blootgestel en kwesbaar… Sy voel-voel met haar linkerhand oor die plastiese sakkie in haar susters-uniform se sak, die een met Beytel Bruwêr se skêrtjie in. Vroeg vanoggend, toe Bertus nog slaap en niemand kyk nie, het sy die skêrtjie se punt goed in die bloedmoster in die hospitaal se vrieskas gedoop. Met haar regterhand streel sy haar eie skerp silwer skêrtjie in haar sak en kug toe die dokter inkom. “Ek gaan net gou kafee toe in my teetyd, ek is nou-nou terug, dokter.”

Tannie Greyvenstein by die kafee groet net ingedagte “hallo hartjie” toe sy inkom en lees verder in haar koerant. Die tannie is oud, effens hardhorend en lees haar koerant met ʼn effens bysiende bril. Blitsvinnig stap Maria deur die kafeetjie en by die agterdeur uit, skêrtjie stewig in haar vuis vasgeklem. Ander skêrtjie met die bloed aan in haar ander sak. Marietjie Bruwêr se agterdeur, skaars sewentig meter verder, staan mos altyd oop, die een wat Bertus vir sy veradderlike besoeke gebruik en dink niemand sien hom nie. Maar sy weet. Versigtig trek sy die sifdeur oop en luister stil na die passievolle geluide in die slaapkamer.

‘Nou moet ek slim wees,’ dink sy en trek Bertus se bloederige skêrtjie uit die plastieksak. Met die skerp punt smeer sy ʼn bietjie bloed teen die binneste deur, ʼn bietjie op die vloer en ʼn merkie teen die broodplank, voordat sy die skêrtjie behendig in die messelaai wegsteek. Die polisie sal hom maklik daar kry.

Met haar konkelwerk afgehandel, stamp Maria een van die kombuistoele om en hy kletter teen die vloer. Presies soos sy vewag het, hoor sy die bed kraak en Bertus se diep sug toe hy by die komsbuisdeur inkom om ondersoek in te stel. ‘Hy is kaal,’ flits dit deur Maria se kop en haar skêrtjie blits twee keer deur die lug om Bertus se aorta te sny. Vinnig, akkuraat, dodelik akkuraat. Die bloed pols onmiddellik langs sy keel af en sy bene gee met ʼn verdwaasde sug in. Stadig sak hy teen die muur af en gaan sit op die vloer, sy vingers wanhopig in die twee diep snye ingedruk. Sy twee glaserige oë staar wanhopig na haar.

“Jammer ek was so lank in die badkamer, tannie Greyvenstein. Net die liter melk vir my vandag, baie dankie. Ek betaal kontant.”

*

“Ek herken daardie skêrtjie, edelagbare,” het sy later tydens Marietjie Bruwêr se moordverhoor op Swellendam getuig. “Dit was ʼn geskenk aan my man, van my af. Hy het altyd sy snor en bakkebaard daarmee netjies gehou en die skêrtjie orals met hom saamgedra. Ja, dit is my eggenote Bertus Bruwêr se silwer skêrtjie.”

“Die staat se saak rus, edelagbare,” maak die staatsaanklaer keel skoon. “Ons volstaan by die bewystuk wat in Marietjie Bruwêr, die vorige vrou van Bertus Bruwêr, se kombuis aangetref is. Die skêr met die oorledene se bloed daarop. En ons staan by ons bewyse dat die oorledene, ten spyte daarvan dat hy toe met suster Maria de Melker getroud was, steeds elke middag skelm besoek by sy vorige vrou, die beskuldigde Marietjie Bruwêr, afgelê het. Daar is slegs een gevolgtekking waartoe die hof kan kom, edelagbare, en dit is dat daar daardie middag ʼn geweldadige argument tussen die oorledene en die beskuldigde ontstaan het. Die beskuldigde het die oorledene met sy eie silwer skêrtjie doodgesteek, edelagbare en toe die skêrtjie in haar messelaai in haar kombuis probeer wegsteek. Die bewyse is onweerlegbaar, edelagbare. Ons vra dat u die beskuldigde, Marietjie Bruwêr, sonder versagtende omstandighede, tot dood veroordeel.”

*

Maande later swaai Swellendam se kafeedeur oop en suster Maria de Melker plaas ʼn liter melk op die toonbank. “Net die melk, vandag, tannie Greyvenstein, baie dankie.”

“Dankie, my kind. Weet jy dat die polisie hier by my was, net nàdat daai Marietjie Bruwêr jou man met die skêr doodgesteek het? Hulle wou by my weet of jy daardie middag hier by my in die winkel was, so om en by dieselfde tyd wat die moord gepleeg is? En ek so toe ja, ek kan dit beaam, Mariatjie is so ‘n goeie verpleegsuster en sy was definitief hier by my. Sy het ʼn alibi, het ek vir die polisie gesê, sy het vir haar ‘n liter melk gekoop en toe teruggestap hospitaal toe. Julle kan maar vir die doktertjie ook gaan vra, het ek vir hulle gesê. Maria was eers hier by my winkel en toe by die hospitaal.”

“Dankie, tannie Greyvenstein. Ja, ek het tydens die hofsaak vir polisie en die edelagbare my silwer skêrtjie gewys, tante. Hy was identies aan die een wat daardie Marietjie Bruwêr gebruik het om my man mee dood te maak.”

“Ek wou jou nog altyd vra, hartjie, maar ek het nog nooit die moed gehad nie. Jy het so ʼn besonderse van, my kind. De Melker. Ek onthou nog destyds, toe ek jonk was, die verskriklike moorde van Daisy de Melker op haar vier mans en haar seun. Jy is nie dalk… ek bedoel, is dit nie miskien…?”

“Tannie is reg, my ma- en pa-hulle het altyd daaroor gepraat. Daisy de Melker was vêrlangs familie van my. Dink aangetroude familie of so iets.”

“Dankie, hartjie, lekker middag vir jou.”

“Lekker middag vir tante ook.”

“So ja,” sug Maria de Melker tevrede toe sy haar liter melk by die kafeetjie se deur uitdra en terugstap hospitaal toe. “ʼn Koppie tee sal darem nou lekker wees.”

*

Gepubliseer deur Henning van Aswegen

Henning van Aswegen lives in Gordon's Bay, a small coastal town East of Cape Town, South Africa. His books and stories can be found at Kraal publishers, South Africa, on Amazon/Kindle and Rabbit Trails publishers.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Spring weg
%d bloggers like this: