Op 25 Junie 2016 ry ons Builders Warehouse in Strand toe, vir inkopies en ontbyt. Bee sê ons moet sommer oppad die wasgoedsakke by die wishy-washie aflaai en sy gooi terstond twee sakke op die agterste sitplek van die groot Nissan-bakkie.
By die wishy-washie stop ek gedienstig naby die deur en sy klim uit om die sakke af te laai. Paraat soos ek Saterdag-oggende is, sien ek ‘n oop parkeerplek raak en spoed in trurat soëntoe, voordat ‘n ander blikskottel die ding gaps. Parkeerplek is Saterdae skaarser in Gordonsbaai as hoendertande in ‘n eendedam – mense kan nogal ongeskik wees as dit by parkeerplekke kom.
In my truspieëltjie sien ek Bee se oë word al hoe groter en sy beduie woes met haar hande in alle rigtings. Ek slaan met verstommende F1-reaksietyd remme aan en sy kom uitasem aangehardloop, hare punt in die wind. Usain-watsenaam-Bolt sou nie kon byhou nie. Wat nou, is sy van lotjie getik? Of is ek? Ek dink ek het ‘n stomme kind doodgery en te kwarteldoof is om die noodhulpkrete te hoor.
“Ek dog jy ry vir my weg,” hyg Bee toe sy opvang, gesig bloedrooi, oë beskuldigend van verontwaardiging.
“Nee, man! Wat gaan aan? Waarom hardloop jy so agter die bakkie aan?”
“Want die wasgoed is nog op die agterste sitplek! Ek dog jy ry vir my weg!”
Mens kan jou nogal ‘n papie lag vir die goeters wat jy Saterdae op jou oudag aanvang.