
Klein kannetjie staan skoorvoetend so neffens my by die kampterrein en hy wil tog so graag gesels. Ek vertel hom toe maar van die walvis wat ek net-nou in die waterkuil langs die kampterrein wil gaan vang. Ek kan in sy oë sien hy wonder of hy die ou korrelkop oom moet vertrou, hy glo my net so halfpad. Ek versterk hom in my eie kwaad en verduidelik dat ek die walvisse gewoonlik aan hulle sterte gryp en oor my skouer gooi, reg vir die braaipan. Kannetjie lyk bietjie wantrouig, maar uiteindelik wen sy Afrikaner ordentlikheid en hy bied aan om te help om die walvis op te sny, wanneer ons hom klaar gevang het. In sulke klein stukkies beduie ek vir hom, sodat sy stert in die pan daar oor die vuurtjie kan pas.
Ja swaerie, dink ek toe ons so kuil se kant toe stap, ek bedoel dit goed en trek jou been met my stories, maar so gaan baie ouens nog vir jou in jou lewe lieg. Veral Suid-Afrika se politici wat jou aanhoudend vertel waarom hulle meer geld, motors en luukse oorsese vakansies op belastingbetalers se onkostes moet kry. Selfs ʼn hospitaal vir privaat-gebruik en fênsie voetuie vir sy baie vroue, soos daardie Zuma politikus ʼn rukkie gelede ons probeer wysmaak het.
Ons het toe daardie dag niks walvisse in die Noord-Transvaalse waterkuil gevang nie en die kannetjie was ietwat teleurgesteld. ʼn Lekker worsbroordjie op die vuur het hom bietjie getroos. Ek hoop maar die kannetjie besef eendag dat my walvisstorie nader aan die waarheid was, as enige politikus se liegstories.
😃