Dit is bloudonnerweer Maandag en ek is vanoggend sielsongelukkig. Sommer vies en kwaad gelyk en die koue Kaapse winterreën help niks nie.
Die Huisgenoot het altyd sulke ordentlike leesstories gepubliseer, nou is dit net moord en doodslag en oppervlakkige diepte-artikels oor die een of ander Amerikaanse aktrisietjie se dekadente en hoogs vervelige liefdeslewe.
Ag-nee man! Waarom moet alles so agteruitgaan? Wie gee nou wragtag om watter aktrise nou watter rok gedra het, of haar krom hare nou reguit maak, of dat sy vergeet het wie die pa van watter een van haar swetterjoel kinders is?
Ek kry noudie-annerdag by Gordonsbaai se biblioteek ʼn juweeltjie in die hande, Lapa se ‘Tydskrif 3 (Julie 2003) – ʼn herontmoeting met Afrikaanse kortverhale uit die veertiger- en vyftigerjare.’ Die meeste van die verhale, deur die room van Afrikaanse skrywers en digters van vroëer jare, het in die Huisgenoot verskyn. Die name van legendes en ikone van die Afrikaanse verhaalkuns spring van die bladsye af; Jan Rabie, Uys Krige, Sita, Andrè P Brink, Bartho Smit, Ina Rousseau, ID du Plessis, Abraham de Vries en nog vele andere.
So lekker soos die sjokkeladekrummels wat ek altyd onder my ma Babs se koekpan in die kombuis gelek het, so lekker is dié stories. Regte stories, van regte mense se lief en leed tot staaltjies en kibbeltjies uit Suid-Afrika se hartseer verlede. Die stories is ook skreeusnaaks, reguit en akkuraat soos jy ʼn ding net in Afrikaans kan sê, met kwinkslae en pakslae vir hooghartiges en hoogdrawendes. Soeter as ʼn Bolandse muskadeltjie is die stories – ag, dit was nou lekkerlees.
Maar dit is die advertensies wat my laat verkneuter. Wanneer laas het jy van woorde soos ‘apieskorreltjiesgrondboonbotter’ gehoor, of ‘Singer se ‘egte Afrikaanse grammafoonplate’ en Tromp van Diggelen se ‘gewaarbogde middels’ teen oortollige gewig, vrouekwale, verkoue en swak harte? Of ‘Dr Williams se pienk pille’ wat jou gaan help om van jou senuweeagtigheid en lusteloosheid ontslae te raak?
Te lekker vir woorde. My moderne Huisgenoot my sy aktrisetjies beland in die asblik en ek gaan maak vir my ʼn lekker emalje-bekertjie boeretroos. Genoegsaam trek ek die ou leesgoed van toentertyd nader en my blou Maandagoggend lyk sommer beter. 😉